Copy
In Junie 2019 het ek en my man Org, die Portugese roete vanaf Porto gestap. Een dag merk hy op: "Dié pad is oop gebid". So raakgevat! Daar is 'n kenmerkende vrede wat op Camino roetes heers. Duisende kilometers word reeds vir honderde jare deur pelgrims afgelê en dit maak hierdie roetes 'heilige paadjies'.

Fisies uitdagend is dit verseker. Jy gaan moeg word, 'n paar nuwe pyne elke dag ontdek en moet seker maak jy is goed voorbereid as jy 'n Camino gaan stap, maar dit bly 'n pelgrimstog en verrassings en ontmoetings gaan jou elke dag inwag.  Die mede-pelgrims en hulle stories, jou eie gedagtes en ritme van jou voetstappe, asook die tegemoedkoming van die inwoners langs die Camino wat duisende pelgrims bedien, raak deel van die misterie. Maar dis die dankbaarheid en prestasie van elke dag se kilometers afgelê en uiteindelik die ongelooflike gevoel van oorwinning as jy by Km 0 aankom wat 'n Camino anders maak as gewone staptogte.
 
Die Camino de Santiago roetes is die mees bekende en gewildste "Camino's", maar daar is ook ander Camino's om te gaan ontdek. Die Camino Francigena in Italië is sekerlik die tweede bekendste en daarna volg die Camino Podiensis in Frankryk wat sowat 750 km kronkel vanaf Le-Puy-en-Velay tot by St Jean Pied de Port - die beginpunt van die Spaanse deel van die Franse Camino de Santiago. Dan is daar natuurlik ook die Kumano Kodo in Japan wat Ernst Grundling onlangs gaan verken het, 'n roete wat reeds sedert die 10de Eeu deur gesiene en invloedryke Japanese gestap is - 'n maandlange reis waartydens hul moes klaarkom sonder die luukshede waarin hul gewoond was - so eg in Camino tradisie!
 

Volgende jaar bied ons die eerste keer 'n Camino Francigena asook Camino Podiensis aan. Maak seker jy volg my Facebook blaaie, 'stapdiecamino' en 'saamoppad' om op hoogte te bly van nuwe Camino 2020 opsies.
Saam Oppad Saam Oppad
Stap die Camino Stap die Camino
Die gewildste roete is die 'Franse Weg' (Camino Francés), wat in St. Jean Pied de Port aan die Pireneë bergreeks, teenaan die grens tussen Frankryk en Spanje begin met 'n totale afstand van sowat 790 km. Die benaming 'Franse  roete' is eintlik baie misleidend aangesien dit slegs die eerste dag in Frankryk begin waarna die res van die roete deur Spanje vleg. Maar min mense het die tyd om 30 - 40 dae die volle roete te stap daarom bied ons ander beginpunte nl. Leon (300 km), Astorga (270 km), Ponferrada (200 km) of Sarria (115 km). Om jou compostela in Santiago de ontvang moet jy ten minste die laaste 100 km gestap het daarom is Sarria (6 of 7 dae stap) tans die mees gewilde beginpunt van alle Camino's.
Die tweede gewildste Camino de Santiago roete is die Portugese Weg wat in Lisabon begin (620 km), of in Porto (270 km binnelands of 280 km kusroete). Tui of Vigo as beginpunte (100 km) is die minimum afstand vir hierdie Camino. Die Portugese roete kronkel deur Portugal op antieke Romeinse paadjies. Geniet Portugal se natuurskoon, kleurvolle argitektuur en natuurlik opwindende cuisine so al stappende tot in Spanje.
 
Groepstap 2020: Begin by Porto OF Tui
15 Julie - 6 Augustus 2020
Navrae oor Portugese Groepstap 2020
Gaan na die einde van die wêreld!

Kaap Finisterre, (Galisies: Cabo Fisterra, Spaans: Cabo Finisterre) is 'n rotsagtige skiereiland aan die weskus van Galicië, Spanje. In die Romeinse tyd is daar geglo dat dit die einde van die wêreld is aangesien die son hier oor die Atlantiese oseaan sak en volgens sommige die mees westelike punt van die Iberiese Skiereiland is.

Jy kan Finisterre op 3 maniere besoek:
  1. As jou hoof Camino. Maar let daarop dat jy dan nie jou Compostela ontvang nie, maar jy kan wel 'n ander sertifikaat by die toerisme kantoor gaan kry. So ons beveel aan dat jy dit eerder as 'n verlegging tot jou hoof Camino doen
  2. As verlegging van jou Camino. Nadat jy in Santiago arriveer het kan jy nog 4 - 7 dae ekstra byvoeg en na Finisterre (100 km van Santiago) of selfs 50 km verder na Muxia stap.
  3. Besoek Fininsterre met 'n dagtoer. Hierdie is 'n baie gewilde opsie vir pelgrims wat nog nie gereed is om huiswaarts te keer nie! Die dagtoer neem jou eerstens na Pontemaceira, 'n middel-eeuse dorpie met 'n indrukwekkende Gotiese brug en watermeule wat uit die 13de eeu dateer. Ry dan deur prentjie mooi vissersdorpies tot by die uitkykpunt Paxareiras, om die mooiste uitsig oor die Atlanstiese oseaan te kry.  Daarna volg die Nuestra Señora de la Barca en 'Heilige rotse' in Muxia en 'n stop by die Ézaro watervalle van Costa da Morte om uiteindelik by die indrukwekkende lighuis aan die einde van die wêreld by Finisterre uit te kom. Hierdie dagtoer sluit ook 'n tradisionele Galisiese middagete in.
Die Paaie van Franken - of meer bekend die "Via Francigena" se werklike beginpunt is in Canterbury - aanvanklik in die Middel-eeue gebruik om van Engeland en ander noordelike lande na Rome te reis. In 990 het Aartsbiskop Sigeric se klerke 'n dagboek gehou van sy terugreis met die titel 'Van Rome na die kanaal'. In die negentigerjare is die dagboek deur Italiaanse navorsers herontdek en word vandag in die Britse museum uitgestal. Die aartsbiskop se beskrywings van plekke langs die roete was baie akkuraat en die ontdekking het akademiese navorsing, toerisme bevordering en die herstel van die werklike roete vir moderne stappers tot gevolg gehad.

Die volle Via Francigena stap- en fietsroete strek oor 1700 km van Canterbury na Rome. In 2020 stap ons die laaste 120 km vanaf Viterbo na Rome met 'n opsionele 3 dag toer in Rome en Assisi.
 
Groepstap 2020: Vanaf Viterbo na Rome
14 - 20 Junie 2020

Addisionele 3 dag Rome & Assisi Toer: 21 - 24 Junie 2020 
Bespreek jou plek vir die Francigena Groepstap 2020
Die "Via Podiensis" begin by die katedraal in Le-Puy-en-Velay in Auvergne, Frankryk, en volg die antieke pelgrimsroete genaamd die GR 65 vir sowat 1600 km tot in Santiago de Compostela. Soos met alle Camino's kan jy slegs 'n gedeelte aflê so ons gaan in 2020 'n georganiseerde groepstap (12 nagte) vanaf Le-Puy-en-Velay na Conques aanbied.

Groepstap 2020: 30 Mei - 10 Junie 2020
Navrae oor Via Podiensis Groepstap 2020
Die meeste van ons pelgrims kies hul eie datums en afstand maar indien jy sou verkies om eerder by 'n groep in te skakel het ons die volgende opsies vir 2020:
2 Opsies vir die Camino Francigena in Italië
Sowat 120 km en 6 dae stap asook opsionele 3 dag toer Rome en Assisi
14 - 20 Junie 2020
15 - 21 Augustus 2020
 
2 Opsies vir die Portugese roete
Vanaf Porto (270 km) of vanaf Tui (110 km)
10 - 30 September 2020
 
1 Opsie vir die Franse roete
Vanaf Astorga (270 km) of Ponferrada (200 km)
September 2020 - Datums sal nog bevestig word
 
1 Opsie vir die Camino Podiensis in Frankryk 
30 Mei - 10 Junie 2020
Van ons 2019 stappers se fotos...

Vir enige Camino navrae stuur gerus 'n e-pos na yolandi@stapdiecamino.co.za
 
In ons volgende nuusbrief kyk ons na Israel toeropsies vir 2020!!
 
Buen Camino
Yolandi van der Wath
 
Copyright © 2019 WeGo Journeys, All rights reserved.


Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list.

Email Marketing Powered by Mailchimp