Copy
SPOOKBUS NUUSBRIEF MAART 2017
Kyk na hierdie epos in jou browser

MEER LIG OP DEMONE 

Hulle kom direk vanaf die onderwêreld



Anders as van die ander geestesverskynsels het demone nooit oor ‘n fisieke aardse liggaam beskik nie, en hulle sal ook nooit nie.

Hulle kom direk vanaf die onderwêreld, wat deur baie gelowe die hel genoem word. Daar word ook onder sommige navorsers geglo dat demone die “gevalle engele” is wat teen God in opstand gekom en hulle aan satan se kant, of te wel die bose, geskaar het.

Hulle is meester manipuleerders wat die liggaam van ongelowiges, asook die van mense wat geestelik en emosioneel minder sterk is, kan oorneem en die persoon laat doen net wat die demoon hul voorskryf om te doen. So sal baie reeks-moordenaars of –verkragters byvoorbeeld sê hulle “weet nie wat oor hulle gekom het” tydens hul onmenslike dade nie.

Demone het slegs een missie voor oë: om mense-lewens te vernietig. Behalwe dat hulle mense in die tronk kan laat beland, bring hulle ook siektes en peste om jou lewe letterlik hel te maak.   

Die enigste manier om van ‘n demoon ontslae te raak, is deur ‘n geestlike leier wat spesialiseer in uitdrywings. Dié ritueel is dan letterlik ‘n geveg tussen die goeie en die slegte waar die demoon, met God se hulp, uit die persoon getrek en teruggestuur word na waar hy hoort – in die hel.

Gelowiges en mense wat ‘n sterk geestelike pad stap, het egter niks te vrees vir demone nie. Al manier hoe hulle ‘n mens se lewe kan oorneem, is as jy nie ‘n sterk geestelike lewe lei nie en jouself besig hou met die bose of bose praktyke. Selfs dinge soos om ongeregtigheid te pleeg of ‘n intense haat vir ander te hê kan as ‘n bose praktyk beskou word wat jou oop laat vir demone.

SUID-AFRIKAANSE SPOOKPLEK GESKIEDENIS

Moenie ‘n spook tart nie


(Bo: Die Schubartpark-woonstelkompleks soos dit destyds gelyk het. Vandag is dié gebou verwaarloos en onbewoon.)

‘n Spook kan hom soms bitsig vererg, veral as hy uitgelok word. Dit is die seer les wat ‘n motorwerktuigkundige van Pretoria in 1994 geleer het.

Rudolf Steyn was in daardie tyd ‘n inwoner van die Schubartpark-woonstelkompleks in die middestad van Pretoria waar hy ‘n woonstel met sy suster gedeel het.

Dié gebou is vandag erg verwaarloos en gevandaliseer, maar jare gelede het dit hier gebruis van lewe en opwinding toe dit deur hoofsaaklik jongmense bewoon is.

Een aand in 1994, sit Rudolf in die bad. Hy is geïrriteerd, want bo hom is dit die badkamerlig wat al weer onverklaarbaar aan en af gaan. Hy dink aan sy suster wat al van te vore skrikkerig vir hom vertel het van die vreemde figuur wat sy soms in hul kombuis sien staan.

Dis alles jou verbeelding, het hy haar stories afgemaak. Maar vir die badkamerlig kon hy nie ‘n verduideliking kry nie.     

Rudolf bring die skeermes na sy gesig, maar dan gaan die lig weer af. Hy vererg hom; dan roep hy kliphard: “Spokie spokie aan die rand, wys my jou gesiggie in die land!”
Sy woorde was skaars koud, toe voel hy ‘n harde klap teen sy skouer, gevolg deur ‘n brandgevoel.

Die volgende dag was daar ‘n bloedrooi, opgeswelde merk op sy rug op die plek waar hy die klap gevoel het. In die vorm van die hand van ‘n groot volwasse man. Inwoners van die kompleks het later aan ‘n verslaggewer van die Pretoria News vertel dat ‘n vorige huurder van die woonstel, in die einste badkamer, aan ‘n hartaanval gesterf het. ‘n Man wat maar kort van draad was en vinnig die vuiste ingelê het wanneer hy gekonfronteer word.
Sy gees was blykbaar nie veel anders nie . . .

INTERNASIONALE SPOOKVERTELLING

Meer as net die lewende oornag hier

(Bo: Die Ballygally Castle Hotel soos dit vandag lyk. Die oorspronklike kasteelgedeelte is links met die nuut aangeboude hotelgedeelte aan die regterkant.)

Indien jy jouself ooit eendag in Noord-Ierland sou bevind, maak seker jy gaan slaap oor in die legendariese Ballygally Castle Hotel met sy pragtige see-uitsig. Dis nou te sê indien jy nie bang is om gedurende die nag deur een van die vele spoke in dié hotel gepla te word nie.

Die Ballygally Kasteel, wat in 1625 gebou is, is in die 1950’s deur die eiendomsmagnaat Cyril Lord gekoop, gerestoureer, aangebou en in ‘n hotel omskep. Vandag word dit deur die Hastings Hotel-groep besit en bestuur.

Verskeie gaste en hotelpersoneel kan die vreemde dinge wat in dié hotel afspeel, bevestig. Olga Henry, die hotelbestuurdeer in die vroeë 2000’s, is maar net een van die vele.  

Sy vertel onder andere van die sakeman wat een aand in die ou gedeelte oornag het. Hy het na ‘n rustelose droom wakker geword toe hy voel hoe ‘n kinderhandjie hom op sy rug klop. Toe hy verbaas omdraai was daar niemand – al wat hy gehoor het was ‘n kind wat laggend uit die kamer hardloop. Die sakeman het net met sy slaapbroek aan na die ontvangs gestorm en benoud geskree: “Kry my hieruit!”

‘n Paar maande later moes Olga en haar personeel een van die onthaalvertrekke in die kasteelgedeelte dek vir ‘n spoggerige dinee wat die volgende dag daar sou plaasvind. Toe hulle klaar is, het sy die deur gesluit en die sleutel veilig by haar gehou. Toe sy die volgende dag die eetsaal oopsluit, was die hooftafel verwoes. Al die glase was omgegooi, die servette opgefrommel en ‘n dik stoflaag het die tafel bedek.

Maar hierdie is maar net ‘n paar van die onverklaarbare verskynsels wat tot vandag toe nog daar afspeel . . .   

Die Ballygally Kasteel is in 1625 deur die Skot James Shaw gebou wat kort daarna met Isobel Shaw getroud is. Min het die verliefde Isobel egter toe geweet watter tragiese wending haar huwelikslewe later sou neem. Tot haar man se ontsteltenis kon sy nie dadelik swanger raak nie. Toe sy egter wel later swanger raak en kraam, het James ontplof toe die baba ‘n meisie was en nie ‘n manlike erfgenaam nie. Sy woede het egter geen perke gehad toe dit ‘n paar jaar later aan die lig kom dat sy kort voor haar swangerskap ook in ‘n vurige liefdesverhouding met ‘n matroos was nie.  

Met wraak in sy hart het hy haar en die kind in twee verskillende kamers toegesluit om van honger te sterf. Isobel het egter deur die klein venstertjie van die toringkamer na haar dood geval.

Het sy self gespring, of is sy dalk deur een van haar man se onderdane uitgegooi? Niemand sal ooit weet nie, maar wat ons wel vandag weet is dat haar spook – te same met die van haar dogtertjie en ander inwoners – na 350 jaar steeds weier om die kasteel te verlaat.

TERUG IN TYD

  • 3 Maart 1943: Die eerste Afrikaanse bouvereniging, Die Saambou Bouvereniging, word gestig.

  • 16 Maart 1985: Allen Heyl, die laaste oorlewende van die berugte Stander-bende wat banke gedurende1983/1984 in die Witwatersrand geteiken het, word in hegtenis geneem.

  • 21 Maart 1960: Sowat 7 000 betogers val die Sharpeville-polisiestasie aan wat deur 75 polisielede beman was. ‘n Skietgeveg breek uit en 69 mense sterf.   

  • 27 Maart 1985: In die Westdene-busramp sterf 36 leerlinge van die Hoërskool Vorentoe.

  • 28 Maart 1994: Sowat 55 mense sterf in ‘n bloedbad nadat ANC-wagte op ‘n groep van 20 000 IFP-ondersteuners in die middestad van Johannesburg begin skiet het.

Volgende toer:
Besprekings vir ons volgende toer op 18 Maart 2017 kan nou aanlyn gedoen word by www.spookbus.co.za

Facebook
Webblad
Share
Forward
Copyright © 2017 Die Pretoria Spookbus, All rights reserved.


Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list

Email Marketing Powered by Mailchimp