Copy
Nuusbrief, Eerste kwartaal 2018
Kyk na hierdie epos in jou browser
Die volgende twee storie-aande vind op 10 Februarie en 10 Maart plaas.
(‘n Teater-op-Wiele-aanbieding)

Meer inligting: http://spookbus.co.za/pretoria-spookbustoer/             
Aanlynbesprekings teen R245 p/p: http://spookbus.co.za/besprekings/ 

PLAASLIKE SPOOKSTORIE-VERTELLING

Charlotte en die Nottingham Road Hotel

In Suid-Afrika is daar ‘n hele paar ou hotelle met ‘n geskiedenis wat oor dekades, en selfs langer as ‘n eeu, terugdateer. Elkeen van hierdie ou geboue het natuurlik hul eie inwonende spoke van mense wat lank terug daar gewoon het, maar wat vergeet het om te vertrek. Een van dié bekende hotelle is die Nottingham Road Hotel in die Natalse Middellande wat vandag steeds nog baie besoekers, gaste en toeriste trek danksy die ouwêreldse sjarme wat die plek omvou.


Die oorspronklike gebou van die Nottingham Road Hotel wat in die 1890’s gebou is.

Die hotel is gedurende die middel 1850’s langs die treinspoor gebou wat daardie omgewing destyds met Durban verbind het. In daardie tyd was Natal natuurlik ‘n Britse kolonie en die hotel was baie gerieflik geleë om voorraad, posstukke en boodskappe vanaf die hawestad te kry.

Wanneer die trein op die stasie stop, het Britse soldate ook vanaf die trein na die hotel gestroom vir ander belangrike voorraad: naamlik drank en vroumense.

Charlotte was een van die dames wat in die laat 1890’s teen betaling die soldate se vleeslike behoeftes bevredig het. Maar toe maak sy teen die draai van die eeu een van die grootste foute wat ‘n prostituut ooit kan begaan: sy raak verlief op een van haar gereelde kliënte.

Sy het gebly in kamer 10 op die boonste verdieping. Wanneer die trein nader kom, sou sy op die balkon gaan staan totdat sy haar gunsteling kliënt sien. Dan sou sy opgewonde vir hom waai en hom innooi. Die probleem was egter: die soldaat het nie haar gevoel van verliefdheid gedeel nie en het uiteindelik opgehou om haar te besoek.

Charlotte se hart was gebreek. Sy het besluit om ‘n einde aan alles te maak en sy het vanaf die balkon na haar dood gespring.

Maar eintlik het sy die hotel nooit verlaat nie. Deur die jare – tot vandag toe nog – het baie besoekers aan die hotel haar teenwoordigheid in Kamer 10 ervaar.

Clive Foss was een van die onlangse eienaars van die hotel. Hy vertel hoe mense wat in dié kamer oorslaap, al ondervind het hoe hul tasse snags in of uitgepak word.

Sommige gaste en personeel het haar dan gesien.

Ander het weer die voetstappe van ‘n man gehoor wat in die gang voor die kamer heen en weer stap. Kan dit dalk die soldaat wees wat intussen van plan verander het en weer Charlotte se lyf wil kom opsoek?


Die hotel is vandag steeds ‘n gesogte plek in die Natalse Middellande om te oornag.

Toe die Gauteng Paranormale Vereniging die hotel ‘n paar jaar gelede ondersoek het, het daar ‘n reeks spookagtige orbse op van die foto’s verskyn wat hulle in die gang geneem het. Orbse is natuurlik een van die mees algemeenste tekens wat dui op die teenwoordigheid van ‘n bonatuurlike teenwoordigheid.

Die span van die TV-reeks Ghost Hunters International het die hotel ook in 2007 besoek en gesê daar is beslis meer as een spook teenwoordig. Hulle het onder andere spesiale toerusting soos stemopnemers en sensors in die hotel opgestel. Toe daar die volgende dag na die klankopnames geluister word, was ‘n krakerige mansstem duidelik hoorbaar wat sê: Ask Me!

HULLE IS STEEDS MET ONS

Vyf tekens dat jou geliefde kom inloer het


Jy hoef nie ‘n sogenaamde heldersiende medium met spesiale geestelike en psigiese vermoeëns te wees om steeds met jou geliefdes wat klaar verhuis het, in kontak te bly nie. Om die waarheid te sê, hulle reik altyd na ons uit in tye wat ons in nood verkeer of net ‘n intense verlange na hulle het.

Hulle kan kom met ‘n belangrike boodskap of hulle kan eenvoudig net hul ewige teenwoordigheid by ons bevestig om ons te laat weet alles is oukei. Daar is baie tekens wat hulle laat om hierdie teenwoordigheid aan ons te bevestig.

Ongelukkig maak sommige mense hierdie tekens van die geestelike teenwoordigheid af as ‘n ooraktiewe verbeelding. Ongelukkig is daar ook sielkundiges wat hierdie tekens verklaar as deel van die rou-proses. Maar dit is so verkeerd; dit is so ‘n klap in die gesig van hulle wat wil wys hulle is steeds met ons.

As jy net jou geestelike bewussynsvlak effens verhoog, kan jy ook die vertroosting ervaar met die wete dat jy nooit alleen is nie.
Kom ons kyk daarom nou na die vyf mees algemeenste tekens dat jou geliefde kom kuier het. Dit gebeur gewoonlik kort na die geliefde se liggaamlike dood en kan vir weke, maande en in uitsonderlike gevalle selfs vir jare lank voortduur.

Drome is die mees algemeenste manier hoe hulle met ons kommunikeer, veral as hulle met ‘n boodskap kom.

Luister na dit wat hulle te sê het, want dit kan belangrik wees. Tydens die Spookbus-uitstappie vertel ons meer in diepte hieroor. Hierdie drome kan soms so intens wees dat jy hoogs ontsteld wakker skrik, gevul met ‘n diepe hartseer. Maar in plaas van hartseer, onthou eerder sy of haar glimlag en die wete dat hulle steeds by jou is.

Aanraking is ‘n ander teken. Dit gebeur dikwels kort na jou geliefde se dood, dat jy die sensasie kan ervaar van iemand wat jou saggies soen of aanraak. In ander gevalle kan jy skielik die teenwoordigheid van iemand anders in die vertrek aanvoel, met die wete dat jy nou nie meer alleen is nie.

Verder is dit ook glad nie vreemd vir ‘n gees om elektriese toestelle te affekteer nie. So kom die gepeuter met elektriese kombuisware gereeld voor. Jy sal byvoorbeeld in jou sitkamer sit en skielik hoor jy hoe kook die ketel in die kombuis of hoe skiet die broodrooster ‘n snytjie brood uit. As jy gaan kyk, is alles stil en normaal.

Ook baie algemeen is ‘n splinternuwe gloeilamp wat skielik blaas of batterye wat onverklaarbaar vinnig pap word.

Die vierde algemeenste teken is items wat skynbaar uit die bloute in jou huis verdwyn. Na ‘n lang soektog vind jy dit dan later oop en bloot op ‘n ander plek terwyl jy wéét dat jy reeds hoeveel keer al op daardie plek gaan soek het. In sulke gevalle kan dit dalk soms vir jou voel asof jy nie meer al jou varkies op hok het nie, maar eintlik is dit maar net ‘n gees wat jou aandag probeer trek – en blykbaar wil jy nie luister nie.

Dan is daar reuk. Ons reuksintuie is baie sterk, en selfs net die geringste vorm van ‘n bekende reuk kan intense herinnerings van ‘n geliefde terugbring. Van die mees algemeenste wat voorkom is veral die skielike reuk van ‘n geliefde se sigaretrook, naskeer-middel of parfuum, of selfs net ‘n briesie van blomreuke.

Wanneer jy ‘n geliefde aan die ander kant het na wie jy baie verlang en jy ontvang uit die bloute een van hierdie tekens, moet dit nie ignoreer nie. Dit is pleinweg ongeskik, want dit is jou geliefde se manier om vir jou te wys dat hy of sy nog steeds naby jou is en baie, baie lief vir jou is.

INTERNASIONALE SPOOKVERTELLING: 

Jy is nie alleen in Die Whaley Huis


Die Whaley Huis in die laat 1800’s.

Dit is vroegaand in San Diego, Kalifornië. Robin Sweeton, bestuurder en hooftoergids van die Whaley Huis-museum (The Whaley House), maak haarself op die boonste verdieping gereed vir die publieke toer deur die museum wat binnekort sal begin. As sy in die gang verby die hoofslaapkamer stap, sien sy uit die hoek van haar oog iets snaaks in die kamer. Nuuskierig loer sy in: ja, sy het haar nie verbeel nie – die hele kamer is gehul in ‘n digte wit mis, sien sy verbaas. Toe, net so onverklaarbaar, ruik sy die reuk van soet pyptabak. Op daardie oomblik lui die voordeurklokkie. Robin hardloop af om die deur vir die toergaste oop te maak, maar toe sy later teruggaan na die slaapkamer was daar geen teken van die mis of die tabakreuk nie.

Maar hierdie gebeurtenis wat Robin in die middel 2000’s daar beleef het, was net een van vele, vertel sy.

Boonop is die talle spookverskynsels in die Whaley Huis deur ál die verskillende menslike sintuie – naamlik sien, voel, hoor en ryk – waargeneem.


Die Whaley Huis in die laat 1800’s.

Toergangers het al gevoel hoe iemand onsigbaar aan hulle vat, voetstappe word deur die huis gehoor, tabak- en parfuumreuk word waargeneem. Sensitiewe gaste het al vir Robin vertel hulle sien ‘n man agter haar staan terwyl sy besig is om die geskiedenis van die huis te vertel. Tydens ‘n ander geleentheid het heldersiende mediums dit bevestig en gesê hulle dink dit is die oorspronklike eienaar van die huis, Thomas Whaley, wat kom seker maak sy het haar feite reg.

Dié huis, wat vandag ‘n museum is, het inderdaad ‘n baie donker geskiedenis met baie spoke wat daar ronddwaal...

Die dubbelverdieping huis is in 1856 deur ‘n invloedryke sakeman, Thomas Whaley, gebou wat destyds as die mees modernste huis in Suid-Kalifornië beskou is. Min het hy toe egter geweet hoeveel tragedies daar nog sou afspeel.


Die Whaley Huis is vandag ‘n museum waar ook gereeld spooktoere aangebied word.

Die eerste sinistêre toeval was die terrein wat Whaley gekoop het om die huis op te bou. Dié terrein is van te vore gebruik om misdadigers te hang, en een van die bekendste gevalle was die van die dief Yankee Jim Robinson. Hy was ‘n buitengewoon lang man. As gevolg van sy lengte het sy voete die grond geraak met die valslag en is sy nek nie gebreek nie. Hy is worstelend, stadig en baie pynlik deur die tou om sy nek dood gewurg.

Twee jaar na Whaley en sy vrou, Anne-Eloise, in hul nuwe huis in getrek het, sterf hul 18-maande oue seun aan koors.

Heelwat later, in 1885, pleeg hul dogter, Violet-Eloise, selfmoord met haar pa se vuurwapen. In die nota wat sy agter gelaat het, het sy geskryf: “Mad from life’s history, Swift to death’s mystery. Glad to be hurled; Anywhere, anywhere out of this world.”

Thomas sterf self in die huis in 1890 en Anna-Eloise in 1913. Die huis bly egter in die Whaley familie tot die laatste erfgenaam in 1953 daar sterf. Met geen erfsate meer oor nie, is die huis deur die staat oorgeneem. Die huis is gerestoureer en is in 1960 as die “The Whaley House Museum” vir die publiek oopgestel.

Maar Thomas en Anne, saam met baie ander, bly tot vandag toe nog in die huis. Baie gaste het al sy sigaarrook en haar parfuum geruik. Haar figuur is ook al in ‘n wiegstoel opgemerk en sagte klavierspel is gehoor. Hul babaseun is ook altyd naby terwyl hy of lag of huil as hy deur die huis beweeg. ‘n Jong meisie, vermoedelik Violet-Eloise, word weer op die boonste verdieping gesien.

En dan is daar ook die gees van Yankee Jim Robinson wat nog daar ronddwaal op die terrein waar hy gehang is.

Toeriste wat vandag die huis-museum besoek, is altyd op die uitkyk vir gordyne wat onverklaarbaar beweeg, kindergeluide, koue kolle of skaduwees teen die mure. Want hulle weet, hulle is nie alleen daar nie . . .

Onthou ons komende twee storie aande:

10 FEBRUARIE & 10 MAART 2018 
(‘n Teater-op- Wiele-aanbieding)

Aanlynbesprekings teen R245 p/p: ​

Meer besonderhede:
http://spookbus.co.za/pretoria-spookbustoer/ 

Bespreek aanlyn:
http://spookbus.co.za/besprekings/​

 

Facebook
Webblad
Share
Forward
Copyright © 2018 Die Pretoria Spookbus, All rights reserved.


Want to change how you receive these emails?
You can update your preferences or unsubscribe from this list

Email Marketing Powered by Mailchimp