INTERNASIONALE SPOOKVERTELLING: STONE'S PUBLIC HOUSE
Geen rus vir die oorspronklike eienaar
(LINKS: Die gebou is 1832 as ‘n hotel gebou.)
Stone’s Public House is ‘n geskiedkundige en elegante kroegrestaurant in Ashland, Massachusetts (Amerika) waar gaste fynproewer-geregte kan bestel.
Maar blykbaar is dit nie net besoekers van vlees en bloed wat in dié ou gebou kom inloer nie. Stone’s Public House is immers bekend daarvoor as een van die plekke met die mees ronddwalende spoke in die hele Massachusetts.
‘n Voormalige assistent-bestuurder, Butch Adams, sê onder andere dat hy om die dood toe nie snags alleen in die restaurant sou bly nie. “Een aand was ek besig om op te ruim nadat almal al weg was. Skielik het ek onverklaarbaar beangs gevoel,” vertel hy. “Toe, net so onverklaarbaar, val daar ‘n handvol voëlsaad deur ‘n gat in die plafon. Skielik was die hele omgewing yskoud. Elke haartjie op my lyf het regop gestaan.”
Die plek het deur die jare verskillende eienaars, talle personeel en duisende gaste gehad, maar almal vertel dieselfde storie: Krane wat vanself begin loop. ‘n Getik op jou skouer, maar as jy om kyk is daar niemand. ‘n Meisie wat deur een van vensters staan en loer. Maar dit is nie al nie . . .
Mediums wat die gebou besoek het, glo vas dat daar ten minste sewe spoke is. En een van hulle is niemand anders nie as John Stone, die oorspronklike eienaar.
(REGS: Kaptein John Stone)
Die welvarende sakeman Kaptein John Stone het die gebou in 1832 as ‘n hotel gebou en dit die Railroad Boarding House genoem, verwysend na die treinstasie wat binne stap afstand van die hotel was.
Na Stone se dood in 1858 het die onderneming nie net verskeie eienaars gehad nie, maar ook verskillende name soos onder andere die John Stone Inn, die Ashland Hotel en deesdae die Stone’s Public House.
Toe Cappy Fournier die besigheid in 1976 gekoop het, was hy dadelik bewus van die onderliggende energie wat binne die gebou teenwoordig was, het hy later aan die media vertel.
Soos byvoorbeeld die portret van Stone wat teen die kaggel in die eetvertrek hang. Baie personeel en gaste vertel hoe hulle ‘n vreemde gevoel ervaar as hulle verby die portret stap – asof iemand hulle dophou. Dan is daar ook die vreemde tabakreuk wat soms in die vertrek hang . . . terwyl daar niemand is wat in die omtrek rook nie. Die mediums vermoed dat dit Stone kan wees wat na meer as 134 jaar steeds ‘n ogie oor sy oorspronklike besigheid kom hou.

(BO: So lyk die Stone's Public House vandag)
Die geskiedenis van die ou gebou het inderdaad vele bisarre voorvalle beleef, soos onder andere:
-
Teen ongeveer 1845 het Stone en drie van sy personeellede saam met ‘n reisende verkoopsman van New York, Mike McPherson, in een van die boonste vertrekke gesit en dobbel. Mike het die pokerspel met duisende dollars gewen, maar die ander het geglo dat hy gekul het. ‘n Geveg het uitgebreek, Stone het vir Mike met ‘n vuurwapen oor die kop geslaan en hy het gesterf. Die lyk is onder die gebou in die kelder begrawe en ‘n eed is gesweer dat niemand ooit hieroor sal uitpraat nie. Dalk is dit Mike wat vandag nog daar ronddwaal opsoek na sy geld, asook die drie personeellede wat net nie rus kon kry weens hul aandadigheid aan die moord nie?
-
In 1862 het ‘n tienjarige meisie, ‘n sekere Mary Smith, buite die hotel gespeel en later op die treinspoor beland waar sy deur ‘n aankomende trein getref is. Die beseerde meisie is deur omstanders na die hotel gedra waar sy deur ‘n dokter behandel is. Hier het sy later gesterf. Haar rok, met bloedvlekke op, kan vandag nog in ‘n vertoonkas in Stone’s Public House gesien word. Is dit sy wat soms voor die kamervenster staan en staar na die plek van haar destydse ongeluk?
-
Dan is daar die storie van Burt Phillips, ‘n gereelde besoeker gedurende die laat 1800’s. So lief soos hy vir die gesellige atmosfeer van die plek was, so lief was hy vir sy drank. Dit is dan seker heel gepas dat dié geharde drinker in 1890 hoog onder die invloed daar aan ‘n hartaanval gesterf het. Is dit sy jolende gees wat nog steeds in die kroeg rondhang, net omdat hy weier om sy geliefde kuierplek te verlaat?
As jy dus ooit tydens jou volgende oorsese toer in Massachusetts sou beland, bespreek gerus vir jou ‘n tafel by Stone’s Public House. Wie weet wie moontlik nog saam met jou vir aandete sal kom aansit?
|