INTERNASIONALE SPOOKVERTELLING
Die wandelende egpaar in die Schweppe Mansion

(Bo: Die Scheppe Herehuis met sy 20 slaapkamers is op ‘n boomryke hoewe van 28 hektaar groot gebou.)
In 1917 gee die skatryk Amerikaanse sakeman, John G. Shedd, ’n pragtige herehuis aan sy dogter Laura Shedd en haar man, Charles Schweppe, as huweliksgeskenk. Min het hy egter toe geweet watter tragedie daar later in dié luukse huis sou afspeel. Nog minder van die spoke wat dekades later deur die lang gange van die herehuis sou dwaal . . .
Shedd, president van die maatskappy Marchall Field and Company in die Amerikaanse deelstaat Illinois, het nie die einde van sy aardse skatte geken nie. Hy het ook geen sent gespaar op dié luukse huis met sy 20 slaapkamers, 18 badkamers en 11 kaggels wat gebou is op ‘n boomryke 28 hektaar hoewe wat op die pragtige Michigan-meer uitkyk nie. Dié huis, wat aan ‘n kasteel herinner, staan tot vandag toe nog as die Schweppe Mansion bekend en is ‘n gesogte besienswaardigheid in Mayflower Road, Lake Forest, Illinois.
Op die oog af het dit baie goed gegaan met die pasgetroude Charles en Laura Schweppe nadat hulle die huis in 1917 betrek het. Net soos sy skoonpa was Charles ook ‘n gesiene sakeman. Die Schweppe-egpaar was veral bekend vir die swierige onthale wat hulle vir bekendes en invloedrykes aangebied het.
Maar was alles werklik wel in die Schweppe-huishouding? Die egpaar het byvoorbeeld net twee kinders gehad, iets wat baie ongehoord was in ‘n era toe ses of meer kinders die norm was. Later was Charles se besigheidsbesluite ook nie meer so winsgewend soos altyd nie en die egpaar moes hul hoë lewensstyl finansiër uit die reuse erfporsie wat Lara van haar pa ontvang het.
(Links: Die 11 kaggels in die huis verseker dat niemand in die wintermaande koud sal kry nie.)
Dit alles kom egter in 1937 tot ‘n einde toe Lara op 58-jarige ouderdom aan ’n hartaanval in die huis sterf. Haar testament was egter ‘n teleurstelling vir Charles. Danksy haar pa het Lara tydens haar dood sowat 10 miljoen dollar besit. Hiervan het sy egter slegs 200 duisend dollar aan haar eggenote bemaak en die res aan haar twee kinders wat as volwassenes nooit in die Schweppe Mansion wou woon nie. Dit was die begin van die einde vir Charles. Sy sakebelange, asook sy fisieke- en geestesgesondheid, het al hoe meer versleg en hy het aan slaaploosheid en ‘n senuweetoestand gelei. Kon hy die teleurstelling van sy klein erfporsie dalk nooit verwerk het nie? Of was die gevolge van sy gesondheidstoestand so erg dat hy gedink het die dood is die enigste manier om van sy pyn te ontsnap?
In 1941, vier jaar na sy vrou se hartaanval, het die huisbediendes hom een oggend dood in sy kamer aangetref waar hy homself in die kop geskiet het. Hy was 60 jaar oud. Op die spieëlkas het hy ’n nota gelos: “I’ve been awake all night. It’s terrible.”
In ‘n bisarre nadraai het sy erfgename – sy twee kinders – nooit die huis verkoop of self weer daar ingetrek nie. Nee, dit het vir 45 jaar onbewoon gestaan terwyl ‘n span bediendes dit steeds onderhou het. Selfs die ondergrondse verhittingstelsel is elke aand gedurende wintermaande aangeskakel. Volgens oorvertellings het Charles voor sy dood opdrag gegee dat die huis vir dié tydperk onbewoond gelaat moet word vir ingeval hy gereïnkaneer sou word en sou besluit om weer in sy woning te kom bly.
Sy gees – en blykbaar ook die van Lara – het egter nooit vertrek nie . . .
In die vier dekades na die egpaar se dood het talle bediendes gereeld vertel hoe wasige figure snags gesien is wat deur die lang gange van die herehuis wandel. Dan was daar soms die rumoer in die kombuis, asof daar steeds voorbereidings getref word vir ‘n groot onthaal. Die vreemdste was die venster van die Schweppe-egpaar se slaapkamer. Terwyl al die ander vensters in die herehuis weekliks gewas moes word, het dié een venster vanself skoongebly. Geen spinnekopweb of stof was ooit daarop te sien nie. Dit moes Charles, of dalk Lara, se geeste wees wat self elke oggend die ruit skoongemaak het, is daar bespiegel.
In 1987 – presies 45 jaar na Charles se selfmoord – is die Schweppe Mansion teen $5.5 miljoen verkoop. Die nuwe eienaars het nooit enige openbare kommentaar gelewer oor die spooklegendes van die huis nie, maar dit is tot vandag toe nog een van die grootste besienswaardighede in Lake Forest vir verbygaande toeriste. Daar waar die spookagtige Schweppe Mansion in Mayflower Road, Lake Forest, Illinois, vanaf ‘n heuwel afkyk na die rustige Michigan-meer.
|