Copy

30 Junie 2016
Beste Luisteraar

Sjoe, jy is sekerlik bewus van al die woelinge binne en buite die SAUK, maar hier by RSG doen ons ons ding of daar nou woelinge is of nie. Ons het nege nuwe programme om jou as luisteraar nóg meer luistergenot te bied. Dis voorwaar ‘n wye reeks nuwighede – van ons nuwe dokumentêre reeks, tot nuwe musiekprogramme (John se goed en Die Kuns van), drie nuwe geselsprogramme (met Ruda Landman oor mense, Jean Oosthuizen oor geloof en spirualtiteit en Martelize Brink oor seks) En dan is daar nog die nuwe aksiebelaaide vervolgverhaal Nastergal en Amore soek jóú storie van toeval. Ons het reeds berig oor ons nuwe Kopkrap en Kompas in die plek van Befonk en die nuwe musiekreeks Musiek en Liriek.

Lekker luister. Laat weet gerus wat julle van die nuwe programme dink en stuur voorstelle sodat ons nóg sekerder kan maak dat jy ons met jou saamdra.

Groetnis, uit Aucklandpark
Magdaleen en die RSG-span

Ruda gesels oor keerpunte

In die reeks van 13 episodes gesels Ruda Landman oor hoe ‘n vliegtuigongeluk, ‘n stryd teen drankverslawing, die uit-die-kas-klim van ‘n gay kunstenaar en ander keerpunte die lewens van Max du Preez, Karin Brynard, Marc Lottering, Sonja Herholdt en ander bekendes verander het. Lees meer.
RSG se Martelize Brink

Ja, ons gaan praat oor seks

In Seks en Jy gaan Martelize Brink die sake onder die lakens takel en daar gaan gesels word oor alles, van seksverslawing tot jou eie seksuele rewolusie. Kenners gaan raad gee, inlig, toelig en luisteraars se vrae beantwoord. Jy kan sommer nou-al jou vrae stuur. Lees meer.
 

Aksiebelaaide vervolgverhaal

Jy kan baie aksie verwag in Nastergal, ons nuwe vervolgverhaal waar ‘n blouwit diamant ter waarde van meer as R100 miljoen tot baie drama, spanning en intrige lei. Die pas is vinnig en die planne slinks en die liefde oorwin alles? Of nie? Diamantduik is nie vir sissies nie. Lees meer.
RSG se John Roos

Nou is dit John se goed

In John se goed deel musiekman John Roos musiek wat deur sy skooljare, studentejare en Unisa- jare nie net groot genot verskaf het nie, maar ook tot sy musikale ontwaking en ontwikkeling bygedra het. Hy speel ook familie-gunstelinge. Lees meer.

Kollig op ons bestes

In die nuwe musiekreeks deur Tharien Oosthuizen op ‘n Sondagoggend, val die kollig op ons eie talentvolle klassiekemusiek musici, soos Gina Beukes, die De Groote broers, Albie van Schalkwyk, Petronel Malan en vele meer. Lees meer.

Ons nuwe dokumentêre reeks begin

Wat doen spesialiste in Madagaskar om kinders met gesplete verhemeltes te help? Wie is PG du Plessis die mens? Wie is die lepel-kitaarman Hannes Coetzee? Watter besonderse kunswerk pryk teen die muur van ‘n kerk in Sophiatown? Dis maar enkele van die dokumentêre programme in die nuwe reeks wat op 7 Julie begin. Lees meer.

Ons kyk uit ‘n ander hoek na geloof

In die reeks Uit ‘n ander hoek, kyk joernalis Jean Oosthuizen uit ‘n ander hoek na geloof en spirualiteit. Die program is inklusief en nie beperk tot enige spesifieke kerk of geloof nie. Lees meer.

Het jy ‘n storie van toeval?

Amore sê toevallig is eintlik toe val lig – en daarom wil sy jou storie van groot toevalligheid hoor. Lees meer.

Meer oor die nuwe Befonk en Musiek en Liriek

Befonk kry nuwe vonk en word Kopkrap en Kompas en Willem Pelser se Musiek en Liriek-reeks fokus op liedjieskrywers.

Vinnige skakels

Hierdie epos word namens RSG gestuur opgrond van jou intekening op ons nuusbrief.

Klik op die volgende skakels indien jy jou eposadres wil verander of jou subskripsie staak.

Ons epos addres is: info@rsg.co.za